Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 13 MAART 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.

In die nuus vandag:

LAASTE GELEENTHEID OM VIR KURSUS IN PROGRAMMERING IN WINDOWS TE REGISTREER

GERESPEKTEERDE TYDSKRIF PUBLISEER VERDUIDELIKING VIR MIN SONVLEKKE

BESPREEK NOU VIR DIE SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM

LISENSIEFOOIE VIR AMATEURRADIO SAL TANS OP R27 BLY

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

LAASTE GELEENTHEID OM VIR KURSUS IN PROGRAMMERING IN WINDOWS TE REGISTREER

Bespreek jou plek nou vir die kursus oor programmering in Windows. Dit sal op Saterdag 19 Maart in Kaapstad aangebied word. Leer hoe om jou eie toepassings in Windows te programmeer en ontwerp jou persoonlike, alleenstaande, toepassings vir die beheer van jou stasie. Skep jou eie EXE-lêers.

Die kursusfooi is R350 vir SARL-lede en R500 vir nie-lede. ’n USB-koppelvlak wat relês kan skakel en die stande van drukknoppies en spannings kan lees, is beskikbaar teen ’n addisionele koste van R120 en kan tydens registrasie bestel word en sal tydens die kursus afgelewer word. Die kursus sal hierdie jaar net een keer in Kaapstad aangebied woed. Moet nie hierdie geleentheid misloop nie!

Besprekings vir die kursus sluit eerskomende Woensdagmiddag. Verkry die besprekingsvorm vanaf www.sarl.org.za, klik op RTA.

GERESPEKTEERDE TYDSKRIF PUBLISEER VERDUIDELIKING VIR MIN SONVLEKKE

’n Artikel in die uitgawe van 3 Maart van die tydskrif Nature word ’n verduideliking aangebied vir die langdurige sonvlekminimum van 2008 tot 2010. Volgens een van die outeurs, Piet Martins, was die laaste keer dat ’n sonvlekminimum tweekeer so lank as gewoonlik aangehou het in ongeveer 1913 en voor dit in 1810. Alhoewel sonvlekaktiwiteit onlangs toegeneem het, was wetenskaplikes dronkgeslaan oor die onlangse afwesigheid van sonvlekke. Hierdie stil tydperk het verhoed dat die ionosfeer baie van die langafstand, hoë frekwensie amateurradiokommunikasie, wat gedurende die afgelope aantal jare verwag is, ondersteun.

Nadat 210 vorige sonvleksiklusse nageboots is, het Martins, tesame met Dibyendu Nandi en Andres Munoz-Jaramillo, ontdek dat verlengde sonvlekminima saamgeval het met ongewone swak magnetiese velde by die pole van die Son. Die drie wetenskaplikes was verbonde aan die Montana State University terwyl hulle hul navorsing gedoen het.

NASA-geborgde navorsing het die eerste rekenaarmodel tot gevolg gehad wat die onlangse tydperk van verminderde sonaktiwiteit gedurende die son se 11-jaar periode verduidelik het.

Hierdie onlangse sonminimum, ’n periode gekenmerk deur ’n laer frekwensie van sonvlekke en sonstorms, was die diepste wat in byna 100 jaar waargeneem is. Die sonminimum het reperkussies op die veiligheid van ruimtereiseen die hoeveelheid ruimteafval wat ons planeet versamel.

Sonwetenskaplikes wêreldwyd was verward oor die verlengde verdwyning van sonvlekke in 2008-2009. Resultate gepubliseer in Nature dui aan dat die geheim opgelos mag wees.

Gedurende hierdie diep sonminimum het die son se magneetveld verswak wat tot gevolg gehad het dat kosmiese strale die sonnestelsel in groot hoeveelhede ingedring het, wat die ruimte ’n meer gevaarlike plek gemaak het om in te reis. Ter selfder tyd het die afname in ultra violetuitstraling veroorsaak dat die aarde se buitenste atmosfeer afkoel en verdwyn.

As gevolg hiervan het ruimteafval gestaak om te verval en het begin om in aardwentelbane te versamel as gevolg van verminderde sleepweerstand. Hierdie gevolge demonstreer die belangrikheid daarvan om die hele sonsiklus gedurende beide minima en maksima te verstaan.

Warnemings deur NASA se Solar Dynamics Observatory (SDO) sal uiteindelik data verskaf wat die bestaande model kan bevestig en die basis kan verskaf vir toekomstige voorspellings in die sonsiklus.

Vir meer inligting aangaande die navorsing, besoek http://www.nasa.gov/sunearth.

BESPREEK NOU VIR DIE SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM

Bespreek nou vir die SA AMSAT se Ruimtesimposium wat op 2 April 2011 by Vodaworld gehou gaan word. Van die sprekers is: Dr Sandile Malinga die HUB van SANSA en die twee leiers van SA AMSAT se Cubesatprojek, John Willescroft en Hannes Coetzee, sowel as Dr. L. J. du Toit van EMSS Antennas, die maatskappy wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling, produksie, indiensstelling en fabrieksondersteuning van die KAT-7 ontvangers. Vir besonderhede en om te bespreek, besoek www.amsatsa.org.za. Maak gebruik van die korting aangebied vir vroeë bespreking. Spesiale tariewe geld ook vir lede van die SARL en SA AMSAT.

LISENSIEFOOIE VIR AMATEURRADIO SAL TANS OP R27 BLY

Die fooie vir amateurradiolisensies salvir hierdie jaar op R27 bly en sal eers volgende jaar styg. OKOSA sal binnekort rekeninge vir die tydperk 1 April 2011 tot 31 Maart 2012 begin pos. Indien u nognie vir die tydperk Januarie tot Maart 2011 betaal het nie, doen dit nou. Die koste is R6,75. Indien u nie ’n rekening per pos ontvang het nie, gebruik die inligting wat op verlede jaar se lisensie gedruk is.

KOMPETISIENUUS

Die SARL BHF/UHF analoog- en digitale kompetisie bevorder werking op die BHF/UHF- en mikrogolfbande sodat operateurs langer afstande as gewoonlik kan werk en laat ook toe dat nuwe ruitblokke gewerk kan word. Ook is dit 'n naweek van amateurradiogenot.

Die kompetisie is oop vir alle gelisensieerde radioamateurs in Suid-Afrika en buurlande. Die kompetisie begin om 10:00 UTC op Saterdag 19 Maart en eindig om 10:00 UTC op Sondag 20 Maart met foon – FM en ESB – GG en digitale modusse op 6, 4 en 2 meter, 70 en 23 cm en hoër. Daar is vyf klasse van deelname insluitend veldstasies en swerwerstasies. Gaan na bladsy 33 van die 2011 SARL se Kompetisiehandboek vir die volledige reëls.



SLEGS TWEE DXCCs TUSSEN DIE SARL SE PRESIDENTE

Tjerk, ZS6P, die SARL-toekenningsbestuurder het SARLNuus ingelig dat daar net twee SARL-presidente is wat die DXCC-toekenning in hulle dienstermyn verwerf het. Die eerste een was Henry Flanter, ZS1FD, wat vanaf 1954 tot 1956 president was en die tweede is Dennis Green, ZS4BS, wat deur middel van Logboek van die Wêreld die DXCC-toekenning verwerf het.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak middelmatig tot aktief is. Die tweede grootste sonfakkel van siklus 24 het Woensdagaand plaasgevind rondom die massiewe sonvlek 1 166 en het radioverbindings aan die dagligkant van die aarde beïnvloed. Tans is sonvlekke 1 166 en 1 169 die grootste. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting ongeveer 80 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 en 10 m. Met die verhoogde sonaktiwiteit sal 10 m eerste oopmaak gevolg deur 15 en 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 10 m en dan later op 15 en 20 m na Europa toe goed wees. Kontakte met Australië is na sonsondergang op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is gedurende die aand moontlik. 10, 15 en 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Maart – Laaste dag om vir programmeringskursus in Windows in Kaapstad te registreer.
19 Maart - RTA, kursus oor programmering in Windows in Kaapstad, besoek www.sarl.org.za om te bespreek.
19/20 Maart - SARL BHF/UHF analoog- en digitale kompetisie.
25 Maart - SAiSAT Inligtingsessie by die NARS.
2 April - SA AMSAT se Ruimtesimposium by Vodaworld, bespreek nou by www.amsatsa.org.za.
15-16 April – SARL Nasionale Konvensie te Vaal Universiteit vir Tegnologie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003